|
Die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland het sy ontstaan te danke aan ‘n groepie Afrikaanse immigrante wat in die loop van 1998, en vroeër, in Nieu-Seeland aangekom het. Nadat van hierdie gesinne verskillende Engelse kerke besoek en ervaar het dat hulle nêrens tuis voel nie, is die behoefte na ‘n eie Afrikaanse kerk uitgespreek. Hierdie gedagte is met vriende gedeel en het by ‘n groep van die immigrante aanklank gevind. Die strewe na ‘n eie Afrikaanse kerk op die North Shore van Auckland het posgevat.
‘n Kerk moet natuurlik ‘n dominee hê. Ds. Dawie Kriel, vroeër van die Hervormde Kerk in Suid Afrika, wat op hierdie stadium ‘n leraar van die Presbiteriaanse gemeente in Te Kauwhata (Nieu-Seeland) was, is genader om ‘n Afrikaanse erediens een keer per maand op die North Shore te hou. Hy het ingestem en die eredienstedienste het begin. Geen kerkstigting het op daardie stadium plaasgevind nie en daar was bloot eredienste gehou om die vatbaarheid van ‘n eie Afrikaanse bediening te toets. Die een diens per maand het gou oorgegaan in ‘n erediens elke Sondag. Eredienste is aanvanklik in die Metodiste kerk in Waiake te 642 Beach Road, gehou. Die eredienste was om 12:00 want daar moes eers gewag word vir die Metodiste-gemeente om met hulle 10:00 vm diens en saamkuier klaar te maak.
Op 1 November 1998 is daar oorgegaan tot die amptelike stigting van ‘n eie Afrikaanse kerk en as naam is daar besluit op “Die Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland” (ACK van NS). ‘n Naam konnotasie met enige van die Afrikaanse susterkerke in SA is doelbewus vermy sodat alle Afrikaanssprekendes wat vanuit ‘n kerk met gereformeerde belydenis kom, tuis sou voel. In die beginperiode kort na stigting moes verskeie sake van die grond af kom. Die kerkraad het weekliks vergader om vordering te monitor. Naas die praktiese bedieninge soos eredienste en kategese moes daar ook aandag gegee word aan die opstel van ‘n kerkorde, beleidbepaling, registrasie van die ACK van NS as amptelike kerk in Nieu-Seeland en vele meer.
Ongeveer gelyktydig met die stigting van die ACK van NS, het Dr. Stanley Theron begin om eredienste vir ‘n groepie Afrikaanssprekendes in die Howick omgewing te hou. Hulle het kort na die stigting van die ACK van NS, die Onafhanklike Gereformeerde kerk van Howick gestig en eredienste is elke Sondag deur Dr. Theron gelei. Dr. Theron het op daardie stadium as hulle konsulent opgetree omrede hy nog steeds leraar van die Ned Geref gemeente Pretoria Tuine was.
Die eredienste van die ACK van NS was dus op die Noordoewer van Auckland en die Onafhanklike Gereformeerde kerk van Howick was in die suidoostelike voorstede van Auckland. ‘n Paar gesinne (ongeveer 10) het egter vanuit die suidoostelike voorstede eredienste van die ACK van NS op die Noordoewer bygewoon.
Kort na stigting van die ACK van NS het Ds. Dawie Kriel van Ds. Gawie Cloete verneem wat op daardie stadium in Hamilton woonagtig was met sy gesin. Bybelstudies en een erediens per maand is deur Ds. Cloete in Hamilton gelei. Ds. Cloete is genader om een erediens per maand in Auckland by die ACK van NS waar te neem. Ds. Cloete preek op 8 November 1998 vir die eerste keer in Auckland en daarna een keer per maand.
In Junie 1999 nader die kerkraad van die ACK van NS vir Ds. Cloete om hulle voltydse leraar te word. Hy aanvaar die aanbod en begin op 12 Julie 1999 as die eerste voltydse leraar van die ACK in NS.
Met die permanensie van ‘n voltydse leraar het die gemeente vinnig begin groei. In die kerkraadsnotule van 5 September 1999 is die eerste vermelding van lidmaatgetalle: 162 siele. Tydens die skrywe van hierdie oorsig in Julie 2005 word met groot dankbaarheid konstateer dat die ACK van NS se lidmaattal op ongeveer 1000 siele staan.
Samesprekings is kort na die bevestiging van Ds. Cloete met die Onafhanklike Gereformeerde Kerk van Howick aangeknoop oor die moontlikheid van samesmelting. Daar is sterk gevoel dat daar nie twee kerkverbande hoef te wees nie en dat die twee gemeentes kan saamwerk. Na vele vergaderings is die ideaal bereik en op 10 September 2000 smelt die twee kerke saam. Voortaan sou dit een kerk wees met die naam Afrikaanse Christen Kerk van Nieu-Seeland.
Eredienste het soos normaalweg voortgegaan met ‘n 9:00 diens in Howick vir die suidoostelike voorstede en ‘n 12:00 diens op die Noordoewer. Een keer per maand het die Hamiltondiens wat Ds. Cloete allaar begin het ook nog plaasgevind. In daardie tyd was Ds. Cloete die enigste leraar van die ACK van NS. Daar is by meer as een geleentheid van fasiliteite verwissel. Op die Noordoewer het die Metodiste kerk gou te klein geword en in Mei 2002 is ‘n ooreenkoms met die North Harbour Sewendedags-Adventiste kerk gesluit om voortaan hulle kerkgebou in 40 Bronzewing Terrace, Unsworth Heights , te gebruik. Hierdie was ‘n veel groter en gerieflike kerk en die gemeente kon na die bevestiging van ‘n tweede leraar, Dr Stephan Joubert, met eredienste om 9:30 begin in plaas van die 12:00 diens. In Howick is daar reeds vier keer van geboue verwissel en tans vind eredienste in die skoolsaal van die Bucklands Beach Primary School plaas.
Toe lidmaatgetalle in 2002 aan die 600 begin raak, het die kerkraad begin dink aan ‘n tweede voltydse leraar. Die grondwerk is gedoen en daar is oorgegaan tot advertering in Suid Afrika, Nieu-Seeland en Australië. Daar is aanvanklik 43 aansoeke ontvang en nadat ‘n kortlys opgestel is, is Dr. Stephan Joubert van die Universiteit van Pretoria beroep. Hy aanvaar die beroep en word in Oktober 2002 in die ACK van NS bevestig. Na ‘n kort verblyf van 11 maande vertrek Dr. Joubert en sy gesin terug na Suid Afrika en moet daar weer gesoek word na ‘n leraar. Ds. Johan Lötter, wat op daardie stadium in ‘n Presbiteriaanse gemeente in Auckland gedien het, is beroep en op 1 Desember 2003 is hy in die ACK van NS bevestig. In Augustus 2005 aanvaar Ds Gawie Cloete 'n beroep na Mariental in Namibië. Ds Danie Marais van Blanco in die Suidkaap word beroep om die vakature te vul.
Op 1 Junie 2003 besoek ‘n afvaardiging van die ACK van NS Hamilton en voer samesprekings met die groep Afrikaanse kerkgangers wat gereeld die maandelikse Hamilton eredienste bygewoon het. Dit was die begin van stappe wat daartoe gelei het dat Hamilton vanaf 17 Augustus 2003 as ‘n wyk van die ACK van NS begin funksioneer het. Ds Johan Hendricks het die wyk aanvanklik vanuit Auckland bedien, maar het spoedig na Hamilton verhuis om ‘n voltydse bediening daar te begin en in November 2003 besluit die Hamiltonwyk van die ACK van NS om ‘n eie volwaardige en onafhanklike gemeente van die ACK van NS te vorm.
Op 21 Desember 2003 begin Ds Johan Hendricks en die Hamilton gemeente met ‘n nuwe inisiatief, nl om een keer per maand ‘n erediens in Rotorua te hou. Mettertyd is daar uitgebrei na twee eredienste per maand en Dr Jaco Reynecke van Tauranga neem die tweede erediens waar.
Gedurende 2005 besluit die Bestuursraad van die Auckland gemeente van die ACK van NS om, vanwee die groeiende lidmaatgetalle, die moontlikheid te ondersoek om die gemeente in twee te verdeeel, nl een gemeente vir die lidmate noord van die Hawebrug en een vir die lidmate suid van die brug. Die resultate van die ondersoek word positief ontvang en die gemeente verdeel amptelik op 31 Maart 2006. Vanaf 1 April 2006 is daar dus drie gemeentes van die ACK van NS, naamlik North Shore, Howick en Hamilton.
Die onafhanklike wykbediening van Hamilton in Rotorua het ook reeds dienste in Tauranga en Whalatane.
Intussen het die Here gewerk regoor New Zealand en het die behoefte aan 'n Afrikaanse Bediening op meer en meer plekke begin ontstaan soos wat die getaal suid-Afrikaanse immigrante oral in New Zeland aan die toeneem is.
Op 3 Desember 2006 sluit die gemeente in Wellington formeel in by die ACK aan as die 5 de gemeente. Hul leraar, Jaco en sy vrou, Anelle Rheeder, is op 29 Julie 2007 daar bevestig.
Groei in lidmaattalle in die North Shore gemeente lei tot die afstigting van die Auckland gemeente op 31 Maart 2007.
Intussen het die gety aangerol na die Suid-Eiland en word 'n gemeente van die ACK in Christchurch op 17 Junie 2007 gestig en Ds Tienie en Monica Bekker bevestig as leraarspaar. Daar word ook alreeds van daar dienste gehou in Ashburton, Timaru en Hinds. |